Vind wat vir jou werk en doen dit. Gooi jou gevoel van nutteloosheid af en omhels die idee dat jy God se meesterplan is. Hoeveel mense sit vandag in werke wat hulle nie geniet nie?
Jou werk maak ‘n groot deel uit van jou dag en as jy nie ‘n passie of liefde daarvoor het nie, is meer as die helfte van jou dag negatief. Ons moet lewe en nie net ‘n lewe maak nie!
Het God ‘n plan vir jou lewe? Die antwoord is ‘n besliste: Ja, definitief! God het klaar ‘n plan vir jou lewe uitgewerk nog voor jou geboorte.

Ek het gewerk maar nie gedoen waarvoor ek bekwaam is nie. Dit het gevoel asof my lewe nie genoeg betekenis het nie en ek nie my doel op aarde leef nie…. Ek het gebid en met God gepraat en Hom vertrou om my die rigting te wys.
Net na ‘n byeenkoms wat deur Finesse tydskrif aangebied is, het ek my passie ontdek. So het ek begin om kursusse aan te bied oor hoogs effektiewe studie- en eksamentegnieke. Hierdie tegnieke help leerders om ‘n liefde vir leer te ontwikkel en ook om hulle volle potensiaal in die lewe te bereik.

Aan die begin was die groepe klein, maar God het deure vir my oopgemaak om meer ouers en kinders te kan bemagtig – tot op hede het ek al meer as 16 000 leerders regoor Suid Afrika se lewens geraak en verander.

My passie is om soveel lewens te bemagtig as wat ek kan. Ek bid ook elke dag dat God my grondgebied sal seën en vergroot. Ek is oneindig dankbaar ek het gevind wat vir my werk. As onderwys Spesialis wil ek elke dag lewens verander, gemeenskappe transformeer en Suid-Afrika deur opvoeding bemagtig. Om ‘n verskil in iemand anders se lewe te maak is bevredigend.
Jaag jou drome na. Vind jou passie en leef dit uit, want dit is die krag wat jou dryf. As jy doen wat jy geniet, sal jy nooit ‘n dag in jou lewe werk nie!

Vra God om jou die wysheid en insig te gee om te doen wat jy geniet en dit dan elke dag te doen. Glo en vertrou 100% en God sal vir jou deure oopmaak. Ek verwag elke dag die onmoontlike, want God is in staat om my meer te gee as wat ek ooit kan verwag.
God het ‘n plan vir elkeen se lewe, soos jy in jou doel inbeweeg en God se plan vir jou lewe leef, sal Hy jou meer invloed en sukses gee. God bekwaam altyd die wat hy roep!
My krag kom van God af want ek sit my vertroue in Hom! Gee vir Hom alles wat jy nie kan beheer nie en Hy sal dit ten goede laat meewerk. Soos Filippense 4:13 sê: “ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Voel jy soos ‘n mislukking of nutteloos?
Die eerste stap is om uit daardie gat te kom en jouself beter te leer ken. Hoe doen ‘n mens dit? jy begin met ‘n reeks vrae wat jy jouself moet vra.
Die eerste vraag is: “Wie is ek?”Ons is almal wonderlik en uniek gemaak. Ons is nie per ongeluk hier nie. Ons het elkeen ‘n baie spesifieke plek in die lewe. Vat ‘n oomblik en dink oor wie jy is? Wat is jou gawes en talente? Waarvan hou jy en waarvan hou jy nie? Hoe meer jy oor jouself kan neerskryf, hoe makliker is dit om te ontdek wat jou gelukkig maak en om jou droom in aksie om te sit.

Niemand is perfek nie en almal maak foute. Wees onvoorwaardelik lief vir jouself. Wanneer jy ‘n goeie idee het, kyk mooi waarvandaan jy kom en waarheen jy op pad is. Is jy besig om jou eie drome na te streef of die van iemand anders? Maak seker jy ken jou eie drome.
Sodra jy gevind het wat vir jou werk, begin om dit te doen!
“There is nothing more beautiful than seeing a person being themselves. Imagine going through your day being unapologetically you.” Steve Maraboli

Doktor in Onderwys: Emsie Rheeders

Tagged on: